18-06-2007 - Minorca
Ons is oppad na Sardinië na 'n heerlike dag in Minorca, die klein boetie van Majorca. Ons is ligdag uit die hawe van Minorca. Ons het vroeg die oggend van die 13de in Minorca aangekom. Die ingang na die hawe en die hawe self is pragtig. Dit lê in 'n diep kala is een van die veiligste hawens in die omgewing. Die hoofstad van Minorca lê op hierdie Kala geleë en jy het huise en geboue wat tot op die waters strek. Die boonste gedeelte waar die ou stad lê het ook restaurante en vasmeerplekke reg om die rand van die kala. Dit is 'n lieflike plek om by aan te kom en om 'n dag deur te bring. Ons het 'n kar gehuur en die eiland ook deurkruis om 'n gevoel te kry van hoe dit lyk in die binneland. Die eiland maak 'n baie positiewe indruk. Dit het nie die erge toerisme wat Majorca het nie. Daar is minder toeriste en die natuurskoon is minder versteur deur ontwikkeling van akkommodasie vir toeriste. Minorca is 'n baie meer natuurlike eiland. Ons het eers noord gery en by 'n natuurpark wat die mees noordelike gedeelte van die eiland beslaan tee gedrink voor ons afgery het na die ander groot hawe van Minorca. Ons is seker so 17:00 terug na Moa toe. Na ons vir Ronnie en Pete afgelaai het, het ek en Bettie so bietjie in die winkeltjies gaan kyk. Die winkeltjies waar ons rondgeloop het, was reg lans die wassery waar ons klere gewas het. Die winkeltjies lê aan die een kant van die straat en op die ander kant van die straat is die kaai waar seiljagte en motorbote vasgemeer lê. Dit is letterlik net 'n straat wydte en dis nie 'n baie breë straat tussen die restaurante, winkels en so meer en die seiljagte en water nie. By een van die winkeltjies kry ons toe nuwe crocs vir Ronnie. Hy leef in sy crocs en die nuwe crocs het vir ons na net die regte geskenk vir hom gelyk. Later die aand gaan ons in die ou stad in. Die ou gedeelte van Moa is egter reeds vroeg stil. Ons het so 20:00 se kant daar aangekom, toe is meeste van die winkels toe en is daar baie min mense te sien. Dit is egter baie mooi. Ons het onder andere by die ou katedraal van die stad uitgekom. Hulle het een van die grootste orrels in Spanje. Die kerk het iets soos 300 pype.
Ons gaan parkeer die kar voor die motorhuur kantoor, gooi die sleutel deur die posbus en stap terug boot toe. 22:00 maak ons toe vir ons iets om te eet en gaan so 00:00 se kant slaap.
Van eet gepraat. Ons probeer gesond eet. Die boot kry jy min oefening terwyl jy seil en jy sal baie gou gewig optel as jy nie versigtig eet nie. die roetine is gewoonlik ontbyt in die oggend wat muesli, pap, koffie of tee insluit. In die middag eet ons elkeen iets lig. Bettie het byvoorbeeld een dag vir ons vrugteslaai op see gemaak wat baie lekker was en vanaand het Bettie 'n heerlike slaai gemaak en Ronnie het van die vleis frikkadelle wat ons in Portugal gekoop het, vir ons in die pan gaar gemaak saam met aartappels.
Elke dag, voordat ons aandete eet, het ons ook so 'n bietjie van 'n sundowner. Ronnie en Pete drink whiskey en ek en Bettie drink 'n gin & tonic. Saam met ons ete drink ons ook 'n rooiwyn. Ons drink nog van die Portugese rooiwyn wat ons gekoop het wat baie lekker was. Ons het ook nou op die eiland Spaanse rooiwyn gekoop. Die wyn kan wissel van €16 af na €1.50. Ons begroting laat ons toe om so €2, €2.50 bottels te koop en dit is heel aanvaarbaar.
Gepost door: realmichiel op 18-06-2007 om 10:55
|